Millennium Park (Chicago)

Millennium Park is een van die mees ambisieuse argitektoniese projekte in Chicago sedert die Columbian Exposition in 1893

Millennium Park is 'n nuwe vername burgersentrum in Chicago en een van die stad se belangrike bakens langs die oewer van die Michiganmeer. Die projek maak deel uit van burgemeester Richard M. Daley se ambisieuse idee om Daniel Burnham se oorspronklike Chicago-plan uit die jaar 1909 te verwesenlik.

Die beplanning het in Oktober 1997 en die boubedrywighede in Oktober 1998 begin. Die projek is in Julie 2004 voltooi. Millennium Park is op 16 Julie 2004 plegtig ingewy as deel van 'n driedaagse feestelikheid, wat onder meer 'n inwydingskonsert van die Grant Park-orkester en -koor ingesluit het. 300 000 mense het die inwydingseremonie bygewoon.

Millennium Park het sedertdien tot een van die mees spoggerige woonbuurte in die stad ontwikkel, en die plaaslike poskode 60602 is deur Forbes as die gewildste in die land aangewys, onder meer danksy nuwe luukse-geboue soos The Heritage at Millennium Park in 130 N. Garland-straat. Nuwe projekte soos Waterview Tower, The Legacy en Momo sal die gewildheid verder verhoog. Die gemiddelde prys vir 'n eiendom het volgens Forbes in 2005 VSA-$ 710 000 bereik.

Millennium Park maak deel uit van die groter Grant Park, een van die grootste openbare parke in die stad en 'n voortreflike voorbeeld van Chicago se pos-moderne argitektuur. Hier lê die McCormick Tribune-ysskaatsbaan, Wrigley Square se Peristyle, die Joan W. en Irving B. Harris-teater vir Musiek en Dans, AT&T Plaza, Lurie-tuin, die Chase-promenade en Trees in Millennium Park.

Die park behels drie bekende kunswerke: Cloud Gate, Crown Fountain en die Jay Pritzker-pawiljoen. Millennium Park word dikwels as die grootste daktuin ter wêreld beskou, aangesien dit bo-oor 'n uitgestrekte spoorwegterrein en parkeergarage gebou is.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search